Meer oor MARLIEN

Marlien van Heerden ag haarself gelukkig om haar liefde vir kuns daagliks te mag uitleef. Sy werk met uiteenlopende temas: kindertjies en wyse ou omies, rustige grasvelde tot oliebore op see. Sy is lief vir die mens as hooftema van haar werk – die kroon van die skepping. In haar skilderye word ‘n oomblik vasgevang: die laaste sonstrale oor ‘n grasvlakte, verwondering wanneer ‘n kind ‘n nuwe ding aanskou; ‘n man wat in sy eie wêreld wegraak tussen die geskarrel van mense; vriende wat mekaar geniet en saam verbind is in ‘n oomblik; unieke kombinasies van gebare, gesigsuitdrukkings en liggaamshoudings.

Marlien is in 1969 gebore as jongste van ‘n gesin van vyf kinders.  Sy het groot geword op die Hoëveld en voltooi haar studies in Kleding en Interieur Bemarking aan UP. Sy begin voltyds skilder in 1997, en woon in Pretoria met haar man en hul vier kinders. Haar esel en palet staan altyd gereed en word eerste ingepak as hulle iewers heengaan. Sy’s gedurig opsoek na unieke oomblikke wat iewers in ‘n skildery gebruik kan word. Haar grootste passie is om van die ware jakob af te werk. Daarom het sy ook ‘n skildergroep begin wat saam ‘n model huur of mooi landskappe besoek vir ‘en plein air’ werk.

Sy kies olieverf omdat dit so geduldige medium is vir haar lewenswyse, sy kan bondels verf uitdruk en haar nie bekommer of sy alles op dieselfde dag gaan opgebruik nie. Marlien hanteer olieverf op ‘n verrassende wyse: sagte vloeibaarheid wat herinner aan waterverf, afgewissel met dik opgeplakte kwashale waardeur illusies van diepte en dinamika homself as’t ware afspeel op doek. In haar skilderye is daar altyd iets nuuts wat mettertyd ontdek word. Van naderby ‘n warboel van kwashale – om netjies in plek te val sodra jy terugtree.

Haar skilderye het nie ellelange beskrywings nodig om dit te waardeer en geniet nie. Dit mag net mooi wees, ‘n hoekie skep waar jy kan gaan droom, ‘n wêreld waarheen jy kan ontsnap. ‘n Handjievol menswees vasgevang en met jou gedeel. ‘n Boodskap gefluister op doek, gelos om sy eie boodskap verder te dra.

Haar skilderye word tans bemark deur o.a. ChrisTugwell gallery, DS Oosthuizen gallery, Dimitrov Art, Rookls art studio, Johan Coetzee gallery in Stellenbosch en Franshoek. Sy ontvang gereeld opdragte van korporatiewe instansies en privaat kliënte, plaaslik en internasionaal. Haar skilderye pryk reeds in verskeie presidensiële wonings.

Kenmerkend van haar portretstudies is dat dit nie net genot aan die gesinslede verskaf nie, maar ook in enige huis waardeer kan word.  Dis vir haar nie genoeg om net ‘n goeie weergawe van die uiterlike te gee nie, haar doel is om die menswees te versinnebeeld -die storie te vertel.  Menige kliënt het al opgemerk, dat as hul huis moet afbrand is haar skilderye van die items wat hulle eerste sal red.

Kom geniet die spesiale uitstalling van haar werk by Chris Tugwell gallery, Brooklyn, Pretoria, gedurende Oktober/November. Verlustig jou ook in haar webtuiste, https://marlienvanheerden.wordpress.com  en www.marlien.co.za, of  kontak haar persoonlik by 082 562 5008.

Dit is Marlien se ideaal dat haar skilderye erfstukke van die siel word. Dit wat kinders onthou van hul ouerhuis—‘n bindkrag met die verlede.

Lewer kommentaar